Afrikaanse Hekel Patrone.

Die enigste Afrikaanse hekelpatrone wat ek het is die wat alreeds hier geplaas is. Kyk onder Tutoriale en Gratis Patrone. Enige ander patrone wat nie op hierdie blad verskyn nie kan gesoek word deur Skakels te besoek wat bo aan die blad gevind kan word. Daar is duisende hekelpatrone maar alles is egter in Engels.

Hekel Patroon en Tutoriaal: Moderne "Granny Square".




Hierdie moderne "Granny Square" lyk so bietjie anders as die tradisionele een. Dit is basies dieselfde stappe wat gevolg word met 'n effense kinkel. Kom ek wys julle hoe maklik dit is om hierdie vierkantjie te hekel.


Materiaal gebruik: Elle Premier Katoen 4-draad en 3mm hekelpen.
Kleur A = Gold; Kleur B = Burnt Orange; Kleur C = Moss; Kleur D = Brown; Kleur E = Taupe.

Grootte van blokkie: 12 x12 cm

Kleur A: Begin met 5ks, gs om ring te vorm.


Ry 1: 3ks, werk 2lb in die ring, 2ks, * werk weer 3lb in ring, 2ks,* herh vanaf * tot * nog 2 keer. [Daar is altesaam 4 groepies van 3 langbene in hierdie ry]; Glipsteek in die 3e ks om die ry te voltooi. Heg af.

Ry 2:   Heg Kleur B in enige 2ks sp en werk 3ks, werk in dies sp die vlg: [2lb, 2ks, 3lb]; 1ks, * werk nou in vlg 2ks sp die vlg: [3lb, 2ks, 3lb]; 1ks, * herh weer van * tot * nog 2 keer en gs in 3e ks om ry te voltooi. Heg af.

Ry 3:  Heg  Kleur  C   in  enige  hoekspasie  en werk  3ks,  werk  in  dies sp  2lb, 1ks, 3lb in vlg sp, 1ks,  werk  in  vlg hoekspasie [3lb, 2ks, 3lb]; 1ks, 3lb in vlg sp, 1ks, 3lb in vlg hoekspasie. 4ks en draai . Die volgende ry word in die teenoorgestelde rigting gehekel.


Ry 4: Werk 3lb in die 1e sp, 1ks, 3lb in vlg sp, 1ks, werk in vlg hoekspasie [3lb, 2ks, 3lb]; 1ks, 3lb in vlg sp, 1ks, 3lb in laaste sp, 1ks, 1lb in bo-punt van 3ks. Heg af en draai werk weer om.
Ry 5: Heg Kleur D in spasie soos aangedui op foto en werk 3ks, werk in dies sp nog 2lb, 1ks, 3lb in vlg sp, 1ks, 3lb in vlg sp, 1ks, in vlg hoekspasie werk [3lb, 2ks, 3lb]; 1ks, 3lb in vlg sp, 1ks, 3lb in vlg sp, 1ks, 3lb in laaste sp, 4ks, draai werk om.


Ry 6: [3lb in vlg sp, 1ks] herh nog 2 keer, werk in vlg hoekspasie [3lb, 2ks, 3lb], 1ks;  werk nou [3lb in vlg sp, 1ks,] herh nog 2 keer, 1ks, 1lb in laaste lb. Heg af en draai werk weer om.

Ry 7: Heg Kleur E in hoekspasie soos aangedui op foto en werk in dies sp die vlg: [3ks, 2lb, 2ks, 3lb], 1ks,  [3lb in vlg sp, 1ks],  herh  nog 2 keer, werk vlg hoekspasie: [3lb, 2ks, 3lb], 1ks, * [in vlg ks sp werk 3lb, 1ks] herh nog 2 keer, werk hoekspasie soos volg: [3lb, 2ks, 3lb] 1ks; * herh van * tot * tot einde van rondte en gs in die 3e ks.










Ry 8: Glipsteek deur tot in die hoekspasie, 3ks, werk in dies sp die vlg: [2lb, 3ks, 3lb], * in elk van vlg 4 ks spasies werk [1lb, 2ks, 1lb]; werk hoekspasie: [3lb, 2ks, 3lb]; * herh van * tot * nog 2 keer, in elk van vlg 4 ks spasies werk [1lb, 2ks, 1lb], gs in 3e ks. Heg af.

Onthou julle die bos geel rose wat ek vir Moedersdag gekry het? Hulle het intussen hulle gesiggies oopgemaak en is tog te pragtig! 





Ek is vandag so bietjie dagaf wat beteken 'n heerlike dag wat ek by die huis kan deurbring! En kuier ek nie lekker hier by myself nie!  Het besluit om  All Bran Muffins te bak vir middagete. Wel dit is een van daardie klaargemengde pakkies waarby mens net olie, eier en melk meng.  Daar dryf so 'n hemelse geur hier deur die huis. Ek het die vuurwarm muffins oopgesny en eet appelkoos konfyt en kaas daaroor. En natuurlik 'n beker koffie om alles mee af te spoel.



En op hierdie heerlike Vrydag middag  groet ek eers weer.


Mag julle almal 'n heerlike naweek hê! 

Lekker hekel almal! 


2 comments:

  1. Hallo Monica! Ek is mal oor die moderne Granny!!! Net my boet se 1e kleinkind se kombers ens klaarmaak (hierdie tannie is baie laat!!!) en dag gaan ek dit iewers uit toets in iets! Ek wil graag my skoonsus ook op jou mail-list plaas - gaan jou info vir haar stuur. Baie groete Anna van Biljon <3

    ReplyDelete
    Replies
    1. Dankie Anna!

      Klink of jy lekker besig is en laat of nie ek is seker dit sal opreg waardeer word.

      Lekker hekel!

      Groete
      Monica

      Delete

Ek hoop jy het lekker gekuier hier by my. Ek hoor graag van jou so los asseblief n boodskap.
Mooi bly!
Monica